Die Wedloop

Filippense 3:12-16

Die opgewondenheid is baie groot in Pietermaritzburg. Dis nog pikdonker. Duisende mense trippel ongeduldig rond. Op die horison begin die lug helder rooi-oranje te kleur. Hierdie gaan ‘n moordende dag wees! Daar is so baie mense, dat ek nie eers die voorpunt van hierdie maraton kan sien nie. Vir meeste deelnemers is dit ‘n bitter onseker dag, moontlik hulle heel eerste, en waarskynlik ook héél laaste Comrades. Wat wag vir my daar voor? Gaan ek dit ooit maak? Gaan ek nie dalk halfpad al moet tou opgooi nie?

Die haan kraai. Pynlik stadig begin daar ‘n beweging kom. Die voorste manne is al kilometers ver as ek vir die eerste keer ‘n paar treë kan gee. Dis frustrerend! Die eerste klompie kilometers gaan goed, en ek hardloop met ‘n lied in die hart. Maar dan kom die eerste groot uitmergelende opdraende, en ek voel hoe my bene naderhand nie meer wil saamwerk nie. Later begin alles net meganies werk, en ek moet sukkel om myself te motiveer om aan te gaan. Die halfpadmerk gaan verby, en wonder bo wonder word ek nog nie afgesny nie. Ek skep nuwe moed. Die pyne raak al hoe erger. My voete voel soos iets wat in 'n slaghuis verkoop word, my longe brand soos vuur en my bene is jellie. O, om net onder ‘n lowergroen ou skaduboom te kan sit, weg van die moordende son af, met my rou voete in ‘n helder koel waterstroompie. Maar iewers daar voor in die verre verskiet wink die eindstreep: vorentoe, aanhou, uithou! Na vandag sal ek ook kan sê dat ek die Comrades gehardloop het! Die gedagte maal oor en oor in my suwwe brein. Wat ‘n héérlike vooruitsig om daardie titel, wat niemand ooit van my kan wegneem nie, te kan verwerf! Maar eers moet ek by die wenstreep kom.

Die laaste kilometer is louter hel. Krampe maak dat ek skaars kan beweeg, maar die wenstreep wink. Met groot moeite sleep ek myself vorentoe. Die skare moedig my aan, en ek kry vir ‘n oomblik nuwe moed. “Komaan, jy kan dit maak!” moedig my maats my aan. Treetjie-vir-treetjie strompel-val ek die laaste entjie, en dan is die pylvak voor my. Ek span my laaste kragte in om triomfantlik oor die wenstreep te waggel. Ek het dit gemaak! Ek hét dit gemaak!

Dit is sékerlik wat deur duisende Comrades atlete se gedagtes gaan op daardie moordende wedloop. Paulus vergelyk die lewe van ‘n gelowige met só ‘n wedloop. Maklik is dit beslis nie! In die Comrades is daar maar enkele atlete wat meeding om die eerste oor die wenstreep te kom. Nege en negentig persent van die deelnemers poog net om die bestemming te bereik - sommige in ‘n goeie tyd, ander net om daar te kom. Die lewenswedloop waarvan Paulus praat verloop presies dieselfde. Daar is diegene wat baie goed voorberei is, en wat met gemak die wedloop hardloop. Maar moenie dink dat dit met hulle altyd voor die wind gaan nie. Selfs die beste atlete kry soms krampe, en selfs die bes-voorbereide gelowiges kry ook maar geestelike teëspoed. Die verskil is net dat ondervinding jou leer waar om jou hulp te soek, en hoe om met jou probleme te kan afreken.

Die feit is dat geestelike oefening jou voorberei vir jou wedloop. Hoe minder geestelik fiks jy is, hoe swaarder sal dit gaan, veral by die steil opdraendes. Iemand wat geestelik totaal onfiks is, kan die gevaar staan om halfpad moed op te gee.

Die vraag is: Hoe raak jy geestelik fiks? Hoe moet jy jou voorberei vir hierdie moordende wedloop? Die héél belangrikste is dat jy eers vir die wedloop moet kwalifiseer. Sonder ‘n lewende verhouding met Jesus is jy reeds gediskwalifiseer.

Drie dinge is onontbeerlik om jou wedloop te kan voltooi. Eerstens kommunikasie met die Outeur van hierdie wedloop, God. Gesels met Hom! Gebed is jou geestelike asemhaling. Nie maar net ‘n wenslysie van dinge wat jy van Hom vra nie, maar ‘n eerlike gesprek met die Here.

Die tweede kanaal van kommunikasie is deur die Woord te lees, nie uit pligsbesef nie, maar met ‘n oop gemoed om daardeur die Here te ontmoet.

Die derde belangrike oefening is jou gemeenskap met ander gelowiges. Maak elke ontmoeting met medegelowiges vir jouself ‘n belewenis, en honger daarna om dit dikwels te doen. Erediens, lofprysings, Bybelstudie groepe, selgroepe, soek sulke geleenthede om jou geloof met ander gelowiges te deel. Dit maak jou sterk en gereed vir die wedloop. Hierdie drie basiese oefeninge is maar net die begin van vele ander heerlike oefeninge, soos om die Evangelie met ongelowiges te deel en om jou liefde uit te leef teenoor die wêreld daar buite.

Ek en jy is in hierdie wedloop. Kom ons hardloop dit voluit en met groot vreugde! God het ons persoonlik geroep in Jesus Christus om deel te neem. Waarom sal ons dan nie met die beste moontlike voorbereiding, al ons kragte inspan om die wedloop te voltooi nie!

Gebed:

Here, gee my asseblief moed en wysheid en deursettingsvermoë om my wedloop voluit te hardloop.