Geskiedenis

Die Eerste Kerk in Balcomb Straat   Die verhaal van Noordkus gemeente begin amptelik op 21 November 1940 met afstigting van die Moedergemeente, Durban. Die volle geskiedenis van die gemeente gaan egter baie verder terug, moontlik so ver as 1910 met Uniewording, toe die Britse kolonie van Natal deel word van die Unie van Suid Afrika, en "Afrikaner Immigrante" Natal begin binnestroom, terug na die land van hulle voorvaders. Die eerste N.G. kerk word in 1923 te Smith Straat in Durban gebou, en die gemeente grens aan Kaapland in die Suide tot by die Tugela rivier, en binneland toe tot by Pietermaritzburg.

Eerw. W J Esterhuysen   Die dorp Stanger, wat sy naam kry van Dr. J K Stanger, Landmeter Generaal van Natal in 1844, is reeds in 1873 opgemeet, en kry sy eie dorpsraad in 1920. Daar is egter bitter min Afrikaanssprekendes in die Noordkus omgewing, dus word die geestelike be-arbeiding daar baie afgeskeep. Alles het egter begin verander toe 'n versoekskrif geteken deur 41 Afrikaanssprekende inwoners van die Stanger omgewing die kerkraad van Durban gemeente bereik. (Mens wonder of dit ál die Afrikaanssprekendes was!) Die gevolg was dat Eerw. W J Esterhuysen, Spoorwegleraar, die eerste diens op Stanger hou op 25 April 1926. Dit is die eerste van vele dienste in die omgewing, en later preek hy ook op Doornkop en Tongaat. Gedurende die volgende aantal jare is hy dikwels opgemerk op pad na die uithoeke van die Noordkus, gewoonlik te voet of te perd, maar soms ook per trein of bo-op die kiste van 'n swaargelaaide negosiewa, altyd gewapen met 'n sambreel teen die moordende son en die ewige onverwagse reënbuie van Natal. So het hy soos 'n ware herder en profeet die evangelie onder sy mense op die voorpos van die beskawing verkondig, 'n onbaatsugtige taak waarvoor hy met sy emiritaat in 1937 die eretitel van Dominee Esterhuysen van die Natalse kerk ontvang.

Kort na Eerw. Esterhuysen se aanstelling is die eerste kerkraadslede, twee ouderlinge en twee diakens, as verteenwoordigers van die streek op die Durban Gemeente aangestel. Teen 1935 het die getalle reeds so aangegroei dat 'n Sondagskooltjie te Stanger gestig kon word deur Mev. M J Naude.

Eredienste was op daardie stadium in lidmate se huise, die Spoorweg Verversingslokaal, 'n Vrymesselaarslosie en selfs in Bux se bioskoop gehou. Dit was dus geen verrassing dat daar in 1936 'n boukommissie in die lewe geroep is om fondse in te samel vir 'n eie plek van aanbidding nie. So groot was hulle ywer dat hulle binne sewe maande 'n erf kon aankoop in Catostraat met die doel om later daar 'n kerksaal te bou.

Die vreugde oor die aankoop van 'n perseel was egter van korte duur, want skaars 'n jaar later word die lidmate meegedeel dat die twee leraars van die Durban gemeente weens werksdruk nie meer hulle weg oopsien om die Noordkus te bearbei nie. Eerw. Esterhuysen het toe ook reeds afgetree. 'n Baie benoude handjievol lidmate stel toe 'n versoekskrif op aan die Natalse Sinode, onderteken deur 86 lidmate, waarin die posisie verduidelik word.

Die gevolg was 'n baie heuglike dag, 8 Oktober 1938, toe die eerste evangeliebedienaar, Ds. J H P van Rooyen, aangestel word te Stanger. Sy salaris word gedeeltelik deur die Sinode betaal. Slegs drie maande later vertrek hy en word hy opgevolg deur Prop. S W Burger. Daar was toé geen huisvesting beskikbaar vir 'n leraar nie, en hy moes maar sy intrek neem by die Fourie gesin op Mzumbi. Hy bly egter ook net vir 4 maande waarna hy terug is na Heidelberg.


Ds. S A Grobler  

Die situasie was allesbehalwe ideaal, en die kerkraadslede vra vir 'n meer permanente aanstelling. Hulle versoek val nie op dowe ore nie, en Prop. S A Grobler word op 18 November 1939 in die Methodiste Kerkgebou te Stanger georden as hulpleraar van die N.G. Gemeente Durban. Hy sou die eerste wees van altesaam ses proponente wat op Stanger georden sou word. Die laaste een, Prop. Kobus de Leeuw, word byna 57 jaar later, op 30 Julie 1995 hier georden.

Intussen is twee erwe op die hoek van Balcomb en Jackson Straat in Stanger aangekoop. Hierdie is 'n baie meer geskikte perseel vir die bou van 'n kerksaal as die een in Catostraat. Op 3 Februarie 1940 word die hoeksteen gelê van die eerste kerksaal wat die kolossale bedrag van £1194 (R2388) kos om te bou, en op 4 Mei 1940 word die gebou amptelik in gebruik geneem, die eerste plek van aanbidding aan die Noordkus. Hierdie gebou sou as kerk dien vir die volgende 25 jaar totdat 'n kerkgebou opgerig is. ('n Verdere 25 jaar later sou nog 'n kerksentrum gebou word te Ballito.)

Vier maande later word 'n kerkraadsvergadering gehou met die oog op afstigting, en op 21 November 1940 stig die Noordkus gemeente af. Suid grens hy aan Durban, en strek tot aan die Tugela rivier.

Die eerste kerkraad word gekies, en bestaan uit ses Ouderlinge (F D R Hoffmann, C J Reinecke, T G Wolmarans, G C J van Rensburg, H D S Pretorius en J H Bruwer) en ses Diakens (W A Labuschagne, H K Du Plessis, A J Du Plooy, W J Van Zyl, J C Fourie en D J Rautenbach).

Ds. S A Grobler word as eerste leraar beroep, en op sy jong skouers sou die reuse taak rus om die nuwe gemeente te vorm, en moes hy vrede en orde handhaaf te midde van gisting en woeling in 'n tydperk van storm en drang. 'n Pastorie word weldra gekoop in Balcomb Straat, waar die eerste Pastorieseun gebore word op 22 Maart 1942. Met 'n wydverspreide lidmatetal van 300 was sy taak om dienste te hou op Stanger, Tongaat, Verulam, Doornkop, Darnall, Umhlali en Maphumulo. Skaars meer as 'n jaar na sy ontvangs in die gemeente, op 7 Junie aanvaar hy sy demissie, moeg en uitgeput van 'n byna onmenslike taak.


Ds. P S N Swart   Op 19 Desember 1942, te midde van krygsrumoer, verdonkering, broederhaat en naastetwis, word die tweede leraar van Noordkus, Prop. P S N Swart in die gemeente ontvang. In die drie jaar van hierdie flink jong leraar se bediening hier, word die gemeente se skuldlas só afgewerk dat daar selfs 'n neseier van £400 bymekaar-gemaak is, die hoeksteen van die nuwe kerkgebou wat 20 jaar later sou verrys. Daar is ook vir die eerste keer 'n ringsitting in die gemeente gehou, op 8 April 1943, en in Augustus 1945 word 'n Strewers Vereniging (die voorloper van die BKJA) gestig wat 'n bloeitydperk belewe het.

Ds. H le C Taute   Na Ds. Swart se vertrek word Prop. H le C Taute, 'n uiters stiptelike, noukeurige, pynlike korrekte en amper-volmaak doeltreffende jong man, op 19 Januarie 1946 in die gemeente verwelkom. 'n Groot spanning heers na die oorlog tussen Afrikaans- en Engels-sprekendes, wat die sake-wêreld baie moeilik maak vir die gemeentelede. Maar as iemand wat vlot Engels kon praat, kon hy brüe bou en die sakeondersteuning van die Engelssprekendes werf.

Ds. J C Pietersen   Na 'n stryd van drie jaar met 'n wêreld van geestelike verval en materiële onverskilligheid en ongeloof, waarin hy die boodskap van geloof, hoop en liefde moes uitdra, vertrek hy om op 15 Mei 1949 deur Prop. J C Pietersen opgevolg te word. Hierdie jong man sal onthou word in die gemeente as iemand met 'n lied in die hart, wat vreugdevol sy arbeid met 'n ongeëwenaarde lewensidealisme op die Noordkus voortgesit het. Gedurende sy bediening word 'n Vrouesendingbond tak in die gemeente gestig, op 17 Maart 1951.

Ds. W J Kleynhans   Sy bediening in ons gemeente duur weereens drie jaar, waarna hy opgevolg word, op 20 Julie 1952, deur 'n beskeie en minsame Prop. W J Kleynhans, wat vir 'n volle 10 jaar sy stille en bedaarde arbeid tussen die uitgestrekte suikervelde van die Dolfynkus sou voortsit. Gedurende sy bediening groei die lidmatetal van 400 tot meer as 700 as gevolg van spoorweg-uitbreidings aan die Noordkus. Op 5 Oktober 1957 word 'n Kerkjeugvereniging in die lewe geroep. Daar word amptelik 'n boufonds gestig en twee persele aangekoop vir die oprigting van 'n kerkgebou.

Ds. J L van Heerden  

Byna 22 jaar na die ontstaan van die gemeente, op 14 April 1962, word die eerste leraar in die gemeente ontvang wat nie hier georden is nie, Ds. J L Van Heerden. Hy is ook die eerste ongetroude leraar van Noordkus gemeente (hy is, terloops, vandag nog steeds ongetroud). Kort na sy aankoms word 'n intensiewe boufondsinsameling van stapel gestuur, wat sulke goeie resultate lewer dat die kerkraad skaars twee jaar later besluit om 'n kerkgebou op te rig, ontwerp deur argitek Olaf Pretorius. Die tenderprys is R55 545.65, en op die feestelike dag van 19 Junie 1965 word die hoeksteen gelê. Twee mosaïek-panele word aan die symure van die gebou aangebring wat gesamentlik 'n pragtige simboliek vorm. Die visse simboliseer die Christendom, die A en W simboliseer God, die Eerste en die Laaste en die kandelare die gemeentes van Christus. Die sirkels simboliseer die oneindigheid en ewigheid van God, die driehoeke God se Drie-Eenheid en die duif die onmisbare leiding van die Heilige Gees.

Die gemeente van 1965 is versprei oor 4000 vk. km, en bestaan uit nie minder nie as 1300 siele, met 9 Sondagskole en 52 Kerkraadslede. Dienste word op vyf plekke, Stanger, Maidstone, Verulam, Umhlanga en Maphumulo gehou. 'n Eenheidsband kan in die gemeente nie bewaar word nie, 'n probleem wat tot vandag toe nog bestaan. Daar word dus nou baie ernstig gedink aan 'n herindeling van die gemeentegrense.

Mettertyd word Umhlanga en Verulam dan ook by ander gemeentes ingedeel.


Ds. Mauritz Kloppers  

Op 5 Januarie 1969 word Ds. M. H. O. Kloppers (later Professor aan die Universiteit van die O.V.S.) ontvang. Die pastorie het te klein geword, aangesien hy 'n groot gesin het, dus word 'n nuwe pastorie gebou. Gedurende sy laaste jaar is hy ook deeltyds dosent aan die Universiteit van Zoeloeland.

Op 26 Augustus 1973 vertrek hy om voltyds te doseer. Hy word opgevolg deur Ds Daantjie Vermeulen wat vanaf 1973 tot 1976 Noordkus gemeente bedien. Gedurende hierdie tydperk word daar twee sendelinge aangestel. Sending onder die Zoeloes was egter nie suksesvol nie, maar Mnr. Charles Haupt het 'n baie suksesvolle bediening onder die Indiërgemeenskap vanaf 1976 to 1981.


Jammer,
geen foto van
Ds. Vermeulen
beskikbaar nie

  Op 26 Augustus 1973 vertrek hy om voltyds te doseer. Hy word opgevolg deur Ds Daantjie Vermeulen wat vanaf 1973 tot 1976 Noordkus gemeente bedien. Gedurende hierdie tydperk word daar twee sendelinge aangestel. Sending onder die Zoeloes was egter nie suksesvol nie, maar Mnr. Charles Haupt het 'n baie suksesvolle bediening onder die Indiërgemeenskap vanaf 1976 to 1981.

Ds. Jean Raath   Twee jaar verloop vandat Ds. Vermeulen weg is, twee jaar van baie woelinge en skeuring in die gemeente. In hierdie tydperk preek Ds. Hatting. Uiteindelik word Ds. J.L. Raath beroep, en hy bly vir 17 jaar die leraar van Noordkus gemeente, vanaf 1978 tot 1995. Op hierdie stadium het die Ballito gemeenskap vinnig begin uitbrei en word gereelde eredienste elke Sondag daar gehou. 'n Geskikte gebou raak egter 'n groot probleem.
Tien jaar na sy aankoms, in 1988, word 'n nuwe kerkgebou op Ballito opgerig.

Ds. Kobus de Leeuw  

Op 30 Julie 1995 word 'n jong, ongetroude Proponent Kobus de Leeuw georden. 'n Paar maande later trou hy met Lizette. Gedurende sy bediening besluit die gemeente dat Stanger en Ballito te ver uitmekaar gedryf het en dat twee afsonderlike wykskerkrade gevorm word met 'n sentrale kerkraad wat die werksaamhede van die twee koördineer. Die pastorie op Stanger is ook in 'n treurige toestand en herstelwerk sou 'n aardige bedraggie kos. Daar is toe besluit om die pastorie te verkoop en 'n pastorie aan te koop in Salt Rock, wat ook meer sentraal geleë is in die gemeente.

Ds. Kobus de Leeuw ontvang 'n beroep na Stellenbosch en vertrek op 1 Februarie 2001.

Op 6 Mei 2001 neem die kerkraad 'n eenparige besluit om weer die twee wykskerkrade te herenig om sodoende eenheid in die gemeente te herstel.


Ds. Alwyn Small   Ds. Alwyn Small word beroep en word op Saterdag, 13 Oktober 2001 die elfde leraar van die Nederduits Gereformeerde Gemeente Noordkus .
Ds Alwyn is tans herder van Noordkus Gemeente saam met sy vrou, Esna en kinders, Alwyn en Alana